I Johannes Chapter 3

I Johannes Chapter 3

1KYK wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
2Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
3En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.
4Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.
5En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.
6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.
7My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.
8Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.
9Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.
10Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.
11Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê;
12nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.
13Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.
14Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.
15Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
16Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.
17Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?
18My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.
19En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel,
20want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.
21Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God;
22en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.
23En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ’n gebod gegee het.
24En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.

I Johannes Chapter 2I Johannes Chapter 4