I Petrus Chapter 2

I Petrus Chapter 2

1LÊ dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;
2en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,
3as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.
4Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;
5en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
6Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
7Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling —
8vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.
9Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
11GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;
12en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.
13Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer,
14of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.
15Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring,
16as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.
17Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.
18DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.
19Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.
20Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God.
21Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;
22Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;
23wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;
24wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
25Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.

I Petrus Chapter 1I Petrus Chapter 3