I Timótheüs Chapter 4

I Timótheüs Chapter 4

1MAAR die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
2deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,
3wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.
4Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie;
5want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.
6AS jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ’n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ’n navolger geword het.
7Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.
8Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.
9Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;
10want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ’n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
11Beveel en leer hierdie dinge.
12Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.
13Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.
14Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.
15Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.
16Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

I Timótheüs Chapter 3I Timótheüs Chapter 5