II Korintiërs Chapter 5

II Korintiërs Chapter 5

1WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.
2Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,
3as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.
4Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.
5Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.
6Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon.
7Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.
8Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.
9Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.
10Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
11OMDAT ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.
12Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die hart nie.
13Want as ons uitsinnig is, is dit tot eer van God; en as ons by ons verstand is, is dit om julle ontwil.
14Want die liefde van Christus dring ons,
15omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
16Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
18En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,
19naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
20Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
21Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

II Korintiërs Chapter 4II Korintiërs Chapter 6