II Korintiërs Chapter 6

II Korintiërs Chapter 6

1EN as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.
2Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.
3Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie;
4maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede;
5in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly;
6in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde;
7in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand;
8deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig;
9as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie;
10as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.
11ONS mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword.
12Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou.
13Maar by wyse van vergoeding — ek praat soos met kinders — moet julle ook verruim word.
14Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
17Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
18en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

II Korintiërs Chapter 5II Korintiërs Chapter 7