II Timótheüs Chapter 2

II Timótheüs Chapter 2

1JY dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is;
2en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.
3Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus.
4Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.
5En verder, as iemand aan ’n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie.
6Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet.
7Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!
8Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie,
9waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos ’n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie.
10Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.
11Dit is ’n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe.
12As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.
13As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.
14HERINNER aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.
15Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
16Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,
17en hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,
18wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.
19Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.
20Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
21As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.
22Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep.
23En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek;
24en ’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.
25Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie,
26en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.

II Timótheüs Chapter 1II Timótheüs Chapter 3