Jesaja Chapter 21

Jesaja Chapter 21

1GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land!
2’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde.
3Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.
4My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ’n verskrikking.
5Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink ... Staan op, o vorste, salf die skild!
6Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;
7en sien hy ’n stoet ruiters, twee aan twee, ’n stoet esels, ’n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.
8En hy het geroep soos ’n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.
9En kyk, daar kom ’n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.
10O My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.
11GODSPRAAK oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?
12Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
13GODSPRAAK teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!
14Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom.
15Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.
16Want so het die Here vir my gesê: Binne ’n jaar — soos die jare van ’n dagloner — sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.
17En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.

Jesaja Chapter 20Jesaja Chapter 22