Johannes Chapter 15

Johannes Chapter 15

1EK is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.
2Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
3Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
5Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
6As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
7As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
8Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.
9Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.
10As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
11Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.
12Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
13Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
14Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
15Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.
17Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.
18As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
19As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
20Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.
21Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
22As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.
23Wie my haat, haat ook my Vader.
24As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.
25Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.
26Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.
27En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.

Johannes Chapter 14Johannes Chapter 16