Job Chapter 1

Job Chapter 1

1DAAR was ’n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.
2En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore.
3Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en ’n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.
4En sy seuns was gewoond om ’n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink.
5En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen.
6En op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
7Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
8En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.
9En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?
10Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.
11Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën!
12Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
13En op ’n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer,
14kom ’n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle,
15het die Sabeërs ’n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
16Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
17Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ’n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
18Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer,
19toe daar meteens ’n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
20Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval
21en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!
22By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.

Ester Chapter 10Job Chapter 2