Lukas Chapter 12

Lukas Chapter 12

1TOE duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid.
2En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
3Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.
4EN Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;
5maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!
6Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie.
7Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
8En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.
9Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God.
10En elkeen wat ’n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie.
11En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie;
12want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.
13EN een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.
14Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ’n regter of deler oor julle aangestel?
15En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
16Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ’n Ryk man se grond het goed gedra.
17En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?
18Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.
19En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
20Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?
21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
22EN Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
23Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
24Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
25En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
26As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
27Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
28As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
29Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
30want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
31Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
32Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
33Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ’n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
34Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
35LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.
36En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.
37Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.
38En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte.
39Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.
40Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.
41Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?
42En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?
43Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.
44Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
45Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word,
46dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ’n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ’n deelgenoot maak van die ontroues.
47En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;
48maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.
49EK het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!
50Maar Ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!
51Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.
52Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.
53Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.
54EN Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook.
55En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur.
56Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?
57En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?
58Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie.
59Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.

Lukas Chapter 11Lukas Chapter 13