Spreuke Chapter 24

Spreuke Chapter 24

1WEES nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie.
2Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.
3Deur wysheid word ’n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig;
4en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.
5’n Wyse man is sterk, en ’n man van kennis ontwikkel krag.
6Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers.
7Die wysheid is vir die sot te hoog; in die poort maak hy sy mond nie oop nie.
8Hy wat hom voorneem om kwaad te doen, word ’n skelm genoem.
9Die sonde is ’n dwase voorneme, en die spotter is ’n gruwel vir die mensdom.
10Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort.
11Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug!
12As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! — sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.
13Eet heuning, my seun, want dit is goed, en heuningstroop is soet teen jou verhemelte.
14Erken dat die wysheid só is vir jou siel; as jy dit vind, dan is daar ’n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
15Loer nie, o goddelose, op die woning van die regverdige, verwoes sy verblyfplek nie.
16Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.
17As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie,
18dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.
19Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie.
20Want die kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood.
21My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie.
22Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?
23Ook hierdie spreuke is van die wyse manne afkomstig. Om partydig te wees in die gereg, is verkeerd.
24Hy wat vir die skuldige sê: Jy het reg! — die volke sal hom vervloek, die nasies sal hom verwens.
25Maar met die wat onpartydig straf, gaan dit goed; en oor hulle kom die seën van voorspoed.
26Hy wat regte antwoorde gee, soen die lippe.
27Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.
28Wees nie sonder oorsaak getuie teen jou naaste nie; want mag jy met jou lippe mislei?
29Moenie sê nie: Soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen — ek sal die man vergelde na sy werk.
30Ek het by die land van ’n lui man verbygeloop en langs die wingerd van ’n verstandelose mens,
31en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi.
32En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem:
33Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus;
34dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ’n gewapende man.

Spreuke Chapter 23Spreuke Chapter 25