Psalms Chapter 51

Psalms Chapter 51

1VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid,
2toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.
13Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees.
15Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21Dan sal U ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.

Psalms Chapter 50Psalms Chapter 52