Romeine Chapter 15

Romeine Chapter 15

1EN op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.
2Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting.
3Want ook Christus het Homself nie behaag nie, maar soos geskrywe is: Die smaadhede van die wat U smaad, het op My geval.
4Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
5En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,
6sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.
7Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God.
8En ek sê dat Jesus Christus ’n dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig;
9en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing.
10En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk;
11en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke.
12En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.
13En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!
14MAAR ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan.
15Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is
16om ’n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ’n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees.
17Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God.
18Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie — om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad,
19deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum;
20maar só, dat ek my eer daarin gestel het om die evangelie te verkondig, nie waar Christus alreeds bekend was nie — om nie op die fondament van ’n ander te bou nie —
21maar soos geskrywe is: Hulle aan wie niks van Hom vertel is nie, sal dit sien; en hulle wat nie gehoor het nie, sal dit verstaan.
22Daarom is ek ook elke keer verhinder om na julle te kom.
23Maar nou dat ek geen plek meer het in hierdie streke nie en al baie jare die begeerte het om na julle te kom,
24sal ek na julle kom wanneer ek na Spanje reis; want ek hoop om julle op my deurreis te sien en deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers ’n tyd lank van julle geniet het.
25Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges.
26Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem.
27Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.
28As ek dit volbring het en vir hulle hierdie vrug veilig oorgebring het, sal ek by julle langs na Spanje afreis.
29En ek weet dat as ek na julle kom, ek met die volle seën van die evangelie van Christus sal kom.
30Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God,
31dat ek verlos mag word van die ongehoorsame mense in Judéa en dat my diensbetoning aan Jerusalem aanneemlik mag wees vir die heiliges,
32sodat ek met blydskap deur die wil van God by julle kan kom en my saam met julle kan verkwik.
33En die God van vrede sy met julle almal! Amen.

Romeine Chapter 14Romeine Chapter 16