1 | EN wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. |
2 | Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is. |
3 | Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. |
4 | Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; |
5 | en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; |
6 | en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. |
7 | Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. |
8 | Want aan die een word deur die Gees ’n woord van wysheid gegee, en aan die ander ’n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; |
9 | aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; |
10 | aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale. |
11 | Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. |
12 | WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. |
13 | Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. |
14 | Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. |
15 | As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? |
16 | En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? |
17 | As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? |
18 | Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. |
19 | As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? |
20 | Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. |
21 | En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. |
22 | Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; |
23 | en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, |
24 | terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, |
25 | sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. |
26 | En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. |
27 | Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. |
28 | En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. |
29 | Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? |
30 | Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? |
31 | Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ’n nog uitnemender weg. |