1 | WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders; |
2 | en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur. |
3 | Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; |
4 | ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. |
5 | Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. |
6 | Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. |
7 | Wees dan nie hulle deelgenote nie. |
8 | Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig. |
9 | Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. |
10 | En beproef wat die Here welbehaaglik is; |
11 | en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. |
12 | Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem. |
13 | Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. |
14 | Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. |
15 | Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; |
16 | en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. |
17 | Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. |
18 | Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. |
19 | Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, |
20 | terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, |
21 | en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. |
22 | VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. |
23 | Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. |
24 | Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. |
25 | Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het |
26 | om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, |
27 | sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. |
28 | So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; |
29 | want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. |
30 | Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. |
31 | Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. |
32 | Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. |
33 | In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig. |