1 | DAARNA het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar. |
2 | En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit. |
3 | Toe die man na die ooste uitgegaan het met ’n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels. |
4 | Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe. |
5 | Verder het hy nog duisend gemeet — ’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, ’n stroom waar ’n mens nie deur kan loop nie. |
6 | En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom. |
7 | Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien, aan altwee kante. |
8 | En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. |
9 | En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ’n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom. |
10 | Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: ’n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ’n menigte. |
11 | Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem. |
12 | En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees. |
13 | SO sê die Here HERE: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel — vir Josef twee dele. |
14 | En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval. |
15 | En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe: |
16 | Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is. |
17 | So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant. |
18 | En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit — die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant. |
19 | En aan die suidekant na die suide toe van Tamar af tot by die twiswaters van Kades, dan na die spruit van Egipte tot by die Groot See; dit is die suidekant na die suide toe. |
20 | En aan die westekant die Groot See, van die grens af tot reg teenoor die plek waar die ingang na Hamat is; dit is die westekant. |
21 | En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel. |
22 | En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ’n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ’n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel. |
23 | En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE. |