| 1 | WEE die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie! |
| 2 | Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele! En perde wat jaag, en waens wat stamp! |
| 3 | Ruiters op ’n galop en geglinster van swaarde en geblits van spiese! En ’n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie — ’n mens struikel oor hulle lyke! |
| 4 | Weens die veelheid van die hoererye van die hoer vol bevalligheid, ’n meesteres in towerkunste, wat nasies met haar hoererye verkoop het en volkstamme met haar towerkunste. |
| 5 | Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande. |
| 6 | En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou ’n skouspel maak, |
| 7 | sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelyde hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek? |
| 8 | Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur? |
| 9 | Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putéërs en Líbiërs was jou tot hulp. |
| 10 | Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei. |
| 11 | Ook jý sal dronk word, beneweld wees, ook jý sal ’n toevlug soek teen die vyand. |
| 12 | Al jou vestings is vyebome met voorvye: as ’n mens skud, val hulle in die mond van die eter. |
| 13 | Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer. |
| 14 | Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm. |
| 15 | Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou verslind net soos voetgangersprinkane. Al vermenigvuldig jy soos voetgangers, al vermenigvuldig jy soos treksprinkane; |
| 16 | al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel — die voetgangers vervel en vlieg weg! |
| 17 | Jou wagters is soos treksprinkane, en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op ’n koue dag op die heining sit — die son breek deur, en hulle vlieg weg, en niemand weet waar hulle beland het nie. |
| 18 | Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie. |
| 19 | Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie? |