| 1 | DIE koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil. |
| 2 | Elke weg van ’n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte. |
| 3 | Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers. |
| 4 | Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde. |
| 5 | Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek. |
| 6 | Die verwerwing van skatte deur ’n valse tong is ’n verwaaide asem — dodelike valstrikke. |
| 7 | Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen. |
| 8 | Gekronkeld is die weg van ’n skuldige mens; maar die reine — sy handeling is reg. |
| 9 | Dit is beter om op die hoek van ’n dak te woon as by ’n twisgierige vrou en ’n gemeenskaplike huis. |
| 10 | Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie. |
| 11 | As ’n mens ’n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as ’n mens ’n wyse onderrig, neem hy self kennis aan. |
| 12 | Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk. |
| 13 | Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie. |
| 14 | ’n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en ’n geskenk in die skoot die heftige woede. |
| 15 | Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar ’n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid. |
| 16 | ’n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus. |
| 17 | Wie van vrolikheid hou, is ’n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie. |
| 18 | Die goddelose is ’n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue. |
| 19 | Dit is beter om in ’n woeste land te woon as by ’n twisgierige vrou en ergernis. |
| 20 | ’n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar ’n dwase mens bring dit deur. |
| 21 | Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind. |
| 22 | Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou. |
| 23 | Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. |
| 24 | ’n Vermetele, ’n trotsaard word ’n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel. |
| 25 | Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk; |
| 26 | die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie. |
| 27 | Die offer van die goddelose is ’n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring. |
| 28 | ’n Leuenagtige getuie kom om; maar ’n man wat goed toeluister, spreek vir altyd. |
| 29 | Die goddelose trek ’n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting. |
| 30 | Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie. |
| 31 | Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE. |