1 | DIE goddelose vlug sonder dat daar ’n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ’n jong leeu. |
2 | Deur die oortreding van ’n land word sy vorste baie, maar deur ’n verstandige mens met kennis is die reg duursaam. |
3 | ’n Man wat arm is en die armes verdruk, is soos ’n reën wat wegspoel en geen brood bring nie. |
4 | Die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose; maar die wat die wet onderhou, word vererg oor hulle. |
5 | Slegte mense verstaan die reg nie, maar die wat die HERE soek, verstaan alles. |
6 | Die arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is. |
7 | Wie die wet bewaar, is ’n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande. |
8 | Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm. |
9 | Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel. |
10 | Wie die opregtes laat verdwaal op ’n verkeerde weg, sal self in sy eie kuil val; maar die regskapenes sal die goeie beërwe. |
11 | ’n Ryk man is wys in sy eie oë; maar ’n arme wat verstandig is, ondersoek hom terdeë. |
12 | As die regverdiges juig, is die heerlikheid groot; maar as die goddelose opkom, moet die mense gesoek word. |
13 | Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind. |
14 | Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val. |
15 | ’n Leeu wat brom, en ’n beer wat hongerig is, so is ’n goddelose wat oor ’n arm volk heers. |
16 | ’n Vors wat gebrek aan verstand het, is wel ryk aan afpersinge, maar die wat onregverdige wins haat, sal die dae verleng. |
17 | ’n Mens wat gedruk word deur die bloed van ’n mens, sal vlug tot by die graf; laat niemand hom vashou nie. |
18 | Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val. |
19 | Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop. |
20 | ’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie. |
21 | Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir ’n stuk brood kan ’n man ’n oortreding begaan. |
22 | ’n Afgunstige man oorhaas hom om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie. |
23 | Hy wat ’n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei. |
24 | Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! — hy is ’n bondgenoot van ’n man wat verderflik handel. |
25 | Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik. |
26 | Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered. |
27 | Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie; maar hy wat sy oë toemaak, word swaar vervloek. |
28 | As die goddelose opkom, verberg die mens homself; maar as hulle omkom, word die regverdiges baie. |