1 | EN as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. |
2 | Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil. |
3 | Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; |
4 | maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; |
5 | in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; |
6 | in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; |
7 | in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand; |
8 | deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; |
9 | as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; |
10 | as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit. |
11 | ONS mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. |
12 | Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou. |
13 | Maar by wyse van vergoeding — ek praat soos met kinders — moet julle ook verruim word. |
14 | Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? |
15 | En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? |
16 | Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. |
17 | Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; |
18 | en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. |