1 | JY dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; |
2 | en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. |
3 | Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. |
4 | Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. |
5 | En verder, as iemand aan ’n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie. |
6 | Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet. |
7 | Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles! |
8 | Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, |
9 | waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos ’n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. |
10 | Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. |
11 | Dit is ’n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. |
12 | As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. |
13 | As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie. |
14 | HERINNER aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders. |
15 | Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. |
16 | Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, |
17 | en hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, |
18 | wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om. |
19 | Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid. |
20 | Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. |
21 | As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. |
22 | Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep. |
23 | En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; |
24 | en ’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. |
25 | Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, |
26 | en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen. |