| 1 | EN Besáleël het die ark van akasiahout gemaak; twee en ’n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte. |
| 2 | En hy het dit oorgetrek met suiwer goud, van binne en van buite; en hy het daaraan ’n goue krans gemaak rondom. |
| 3 | En hy het daarvoor vier goue ringe gegiet, aan sy vier voete, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant was. |
| 4 | En hy het draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek; |
| 5 | en hy het die draaghoute in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om die ark te dra. |
| 6 | Hy het ook ’n versoendeksel van suiwer goud gemaak. Twee en ’n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte. |
| 7 | Ook het hy twee gérubs van goud gemaak. Van dryfwerk het hy hulle gemaak, aan die twee ente van die versoendeksel. |
| 8 | Een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, het hy die gérubs gemaak, aan die twee ente. |
| 9 | En die gérubs het die vlerke boontoe uitgesprei gehou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte was na mekaar toe. Die gesigte van die gérubs was op die versoendeksel gerig. |
| 10 | Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Twee el was sy lengte, en ’n el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte. |
| 11 | En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor ’n goue krans gemaak rondom. |
| 12 | Hy het ook daarvoor ’n lys van ’n handbreed gemaak rondom; en hy het ’n goue krans vir die lys gemaak rondom. |
| 13 | Hy het ook vier goue ringe daarvoor gegiet; en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die vier pote. |
| 14 | Naby die lys was die ringe as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra. |
| 15 | Hy het ook die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek om die tafel te dra. |
| 16 | En hy het die gereedskap gemaak wat op die tafel moes wees: sy skottels en sy rookpanne en sy bekers en sy kanne waarmee gegiet moes word, van suiwer goud. |
| 17 | Hy het ook die kandelaar van suiwer goud gemaak. Van dryfwerk het hy die kandelaar gemaak, sy voetstuk en sy stam; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme was, daarmee saam, uit een stuk. |
| 18 | En ses arms het uit die sykante daarvan uitgegaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant. |
| 19 | Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ’n knop en ’n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ’n knop en ’n blom — so was dit aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan. |
| 20 | Maar aan die kandelaar self was vier kelkies soos amandelblomme, met knoppe en blomme: |
| 21 | daar was ’n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ’n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ’n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan — vir die ses arms wat daaruit uitgaan. |
| 22 | Hulle knoppe en hulle arms was, daarmee saam, uit een stuk — alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud. |
| 23 | En hy het sewe lampe daarvoor gemaak en sy snuiters en sy bakkies van suiwer goud. |
| 24 | Van ’n talent suiwer goud het hy dit gemaak met al sy gereedskap. |
| 25 | En hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; ’n el was sy lengte en ’n el sy breedte, vierkantig, en twee el sy hoogte. Sy horings was, daarmee saam, uit een stuk. |
| 26 | En hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die plaat, die sykante en die horings. En hy het daarvoor ’n goue krans gemaak rondom. |
| 27 | Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die krans aan weerskante, aan die twee sykante, as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra. |
| 28 | En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek. |
| 29 | Hy het ook die heilige salfolie gemaak en die suiwer reukwerk van speserye, soos ’n salfmenger dit maak. |