1 | STAAN dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. |
2 | Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. |
3 | En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. |
4 | Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. |
5 | Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop. |
6 | Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk. |
7 | Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? |
8 | Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. |
9 | ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. |
10 | Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees. |
11 | Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig! |
12 | Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink! |
13 | Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. |
14 | Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. |
15 | Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie. |
16 | MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; |
17 | want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. |
18 | Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. |
19 | En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; |
20 | afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; |
21 | afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. |
22 | Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. |
23 | Teen sulke dinge is die wet nie. |
24 | Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. |
25 | As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. |
26 | Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie. |