1 | IN dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is. |
2 | In dié dag sal daar wees ’n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan! |
3 | Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie. |
4 | Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand. |
5 | Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak. |
6 | In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak. |
7 | Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met ’n slagting soos die wat deur Hom gedood is? |
8 | Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind. |
9 | Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie. |
10 | Want die versterkte stad is eensaam, ’n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af. |
11 | As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is ’n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie. |
12 | En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel! |
13 | En in dié dag sal daar met ’n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem. |