1 | IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. |
2 | Hy was in die begin by God. |
3 | Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. |
4 | In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. |
5 | En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. |
6 | Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. |
7 | Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. |
8 | Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. |
9 | Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. |
10 | Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. |
11 | Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. |
12 | Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; |
13 | wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is. |
14 | En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. |
15 | JOHANNES getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. |
16 | En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. |
17 | Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. |
18 | Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. |
19 | En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? |
20 | En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. |
21 | Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee. |
22 | Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself? |
23 | Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het. |
24 | En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. |
25 | En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie? |
26 | Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie — |
27 | dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie. |
28 | Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. |
29 | Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! |
30 | Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek. |
31 | En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. |
32 | En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. |
33 | En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. |
34 | En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. |
35 | DIE volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; |
36 | en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God! |
37 | En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg. |
38 | En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: |
39 | Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi — dit wil sê, as dit vertaal word, Meester — waar is U tuis? |
40 | Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur. |
41 | Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het. |
42 | Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus. |
43 | En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus. |
44 | Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My. |
45 | En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus. |
46 | Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret. |
47 | En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk. |
48 | Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie. |
49 | Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien. |
50 | Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel! |
51 | Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit. |
52 | En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens. |