| 1 | KYK, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk. |
| 2 | Wat julle weet, weet ek ook: ek staan nie vir julle terug nie. |
| 3 | Maar ék sal met die Almagtige spreek, en ek verlang om te pleit by God. |
| 4 | Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal. |
| 5 | Ag, as julle maar heeltemal sou swyg — dan sou dit vir julle wysheid wees! |
| 6 | Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe. |
| 7 | Wil julle, tot verdediging van God, onreg spreek en ten behoewe van Hom bedrog laat hoor? |
| 8 | Wil julle vir Hom partydig wees? Of wil julle vir God pleit? |
| 9 | Sal dit goed wees as Hy julle ondersoek? Of wil julle Hom bedrieg soos ’n mens bedrieg word? |
| 10 | Hy sal julle sekerlik straf as julle in die geheim partydig is. |
| 11 | Sal sy hoogheid julle nie verskrik nie, en die skrik vir Hom julle nie oorval nie? |
| 12 | Julle kernspreuke is spreuke van as, julle skanse word skanse van klei. |
| 13 | LAAT my met rus; dan wil ék spreek; laat dan oor my kom wat wil. |
| 14 | Waarom sou ek my vlees in my tande neem en my lewe neerlê in my hand? |
| 15 | Kyk, al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit. |
| 16 | Ook is dit my tot heil dat ’n goddelose voor sy aangesig nie sal kom nie. |
| 17 | Luister goed na my rede en gee gehoor aan my verklaring. |
| 18 | Kyk tog, ek dra die regsaak voor; ek weet dat ék reg sal hê. |
| 19 | Wie durf my dan bestry? Ja, dan sou ek swyg en sterwe. |
| 20 | Moet my net twee dinge nie aandoen nie, dan sal ek my vir u aangesig nie verberg nie: |
| 21 | trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie. |
| 22 | Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord. |
| 23 | Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend. |
| 24 | Waarom verberg U u aangesig en hou my vir ’n vyand van U? |
| 25 | Wil U ’n verwaaide blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg, |
| 26 | dat U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat erwe, |
| 27 | en dat U my voete in die blok sit en al my paaie bewaak? U trek vir U ’n streep om die sole van my voete; |
| 28 | en dít iemand wat verval soos hout wat weggevreet is, soos ’n kleed wat die mot verteer. |