| 1 | TOE het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê: |
| 2 | Sal ’n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind — |
| 3 | deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie? |
| 4 | Ja, jý breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God. |
| 5 | Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges. |
| 6 | Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou. |
| 7 | Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring? |
| 8 | Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek? |
| 9 | Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie? |
| 10 | Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader. |
| 11 | Is die vertroostinge van God vir jou te min, en ’n woord met sagtheid jou toegespreek? |
| 12 | WAAROM sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so — |
| 13 | dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan? |
| 14 | Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ’n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees? |
| 15 | Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie; |
| 16 | hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water! |
| 17 | Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel; |
| 18 | wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders afoorgelewer; |
| 19 | aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie. |
| 20 | AL sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is. |
| 21 | Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom. |
| 22 | Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard. |
| 23 | Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis. |
| 24 | Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos ’n koning wat gereed staan vir die aanval, |
| 25 | omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het |
| 26 | (hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde); |
| 27 | omdat hy sy gesig met sy vet oordek en ’n vetlaag op sy heupe gevorm het, |
| 28 | en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly. |
| 29 | HY bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie. |
| 30 | Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God. |
| 31 | Laat hom nie vertrou op nietigheid nie — hy kom bedroë uit! — want nietigheid sal sy vergelding wees. |
| 32 | Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie. |
| 33 | Hy skud sy onryp druiwe af soos ’n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos ’n olyfboom. |
| 34 | Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery. |
| 35 | Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort. |