| 1 | NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou? |
| 2 | Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne. |
| 3 | Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie. |
| 4 | Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit — wie kan daarin deurdring? |
| 5 | Die deure van sy gesig — wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking. |
| 6 | ’n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met ’n vaste seël. |
| 7 | Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie. |
| 8 | Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar. |
| 9 | Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad. |
| 10 | Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit. |
| 11 | Uit sy neusgate kom rook, soos uit ’n kokende pot met biesiesvuur daarby. |
| 12 | Sy asem laat kole ontvlam, en ’n vlam gaan uit sy mond. |
| 13 | In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis. |
| 14 | Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik. |
| 15 | Sy hart is hard soos ’n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen. |
| 16 | As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself. |
| 17 | Raak iemand hom met die swaard — dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie. |
| 18 | Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het. |
| 19 | Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels. |
| 20 | Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans. |
| 21 | Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei ’n ware dorsslee uit op die modder. |
| 22 | Hy laat die diepte kook soos ’n pot; die waterplas maak hy soos ’n kokende salfpot. |
| 23 | Agter hom verlig hy die pad: ’n mens sou die watervloed aansien vir grys hare. |
| 24 | Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees. |
| 25 | Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere. |