1 | MAAR Job het geantwoord en gesê: |
2 | Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in ’n skaal opgehef! |
3 | Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam. |
4 | Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op. |
5 | Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk ’n bees by sy voer? |
6 | Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van ’n eier? |
7 | My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys. |
8 | AG, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee! |
9 | En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny! |
10 | Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie. |
11 | Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees? |
12 | Is my krag ’n krag van klip of my vlees van koper? |
13 | Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie? |
14 | VIR die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar. |
15 | My broers het troueloos gehandel soos ’n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop, |
16 | wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg — |
17 | in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek. |
18 | Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan. |
19 | Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag. |
20 | Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld. |
21 | So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees. |
22 | Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my ’n omkoopgeskenk uit julle vermoë? |
23 | Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne? |
24 | ONDERRIG my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het. |
25 | Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig ’n bestraffing uit, van julle afkomstig? |
26 | Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van ’n wanhopige is vir die wind! |
27 | Ja, julle sou ’n wees uitloot en julle vriend verhandel. |
28 | Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie. |
29 | Keer tog terug — laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug — nóg is my geregtigheid daar. |
30 | Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie? |