1 | TOE het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê: |
2 | Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond ’n geweldige wind wees? |
3 | Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk? |
4 | As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee. |
5 | As jý na God soek en die Almagtige om genade smeek, |
6 | as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid; |
7 | dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot. |
8 | WANT doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het; |
9 | (want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae ’n skaduwee op die aarde is;) |
10 | sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie? |
11 | Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water? |
12 | Nog is dit in sy volle groei — sonder dat dit afgepluk word — dan verdor dit voor al die ander gras. |
13 | So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose; |
14 | sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ’n spinnerak. |
15 | Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie. |
16 | Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin. |
17 | Sy wortels is gevleg oor ’n hoop klippe heen, ’n kliphuis deurboor hy. |
18 | As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie. |
19 | Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit! |
20 | Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie. |
21 | Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig, |
22 | sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose — weg is dit! |