1 | EN toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit |
2 | en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle; en dadelik as julle daar inkom, sal julle ’n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. |
3 | En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? moet julle antwoord: Die Here het hom nodig; en dadelik sal hy hom hierheen stuur. |
4 | En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak. |
5 | Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak? |
6 | En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan. |
7 | En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit. |
8 | Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad. |
9 | En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! |
10 | Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele! |
11 | En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië. |
12 | EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad; |
13 | en toe Hy op ’n afstand ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie. |
14 | En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ’n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor. |
15 | En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi; |
16 | en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie. |
17 | En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak. |
18 | En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer. |
19 | En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad. |
20 | En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af. |
21 | En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog. |
22 | Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. |
23 | Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê. |
24 | Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. |
25 | En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. |
26 | Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie. |
27 | EN hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom |
28 | en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen? |
29 | En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. |
30 | Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My. |
31 | En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? |
32 | Maar as ons sê: Uit mense — dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik ’n profeet was. |
33 | En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. |