1 | VERDER het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie? |
2 | Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente; |
3 | en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in ’n pot en soos vleis in ’n pan. |
4 | Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het. |
5 | So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle ’n heilige oorlog! |
6 | Daarom sal dit nag word vir julle, sonder ’n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word. |
7 | En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie. |
8 | Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde. |
9 | Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ’n afsku het en al wat reg is, verdraai; |
10 | julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg! |
11 | Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ’n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie! |
12 | Daarom sal Sion om julle ontwil soos ’n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante. |