| 1 | EN die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: |
| 2 | Die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen by sy vaandel by die veldtekens van hulle families; op ’n afstand rondom die tent van samekoms moet hulle laer opslaan. |
| 3 | En die wat aan die oostekant, teen sonop, laer opslaan, moet wees: die vaandel van die laer van Juda volgens hulle leërafdelings; en Nagson, die seun van Ammínadab, moet owerste oor die seuns van Juda wees. |
| 4 | En sy leër met hulle geteldes was vier-en-sewentigduisend-seshonderd. |
| 5 | En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Íssaskar; en Netáneël, die seun van Suar, moet owerste oor die seuns van Íssaskar wees. |
| 6 | En sy leër met hulle geteldes was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd. |
| 7 | Verder die stam van Sébulon; en Elíab, die seun van Helon, moet owerste oor die seuns van Sébulon wees. |
| 8 | En sy leër met sy geteldes was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd. |
| 9 | Al die geteldes in die laer van Juda was honderd-ses-en-tagtigduisend-vierhonderd volgens hulle leërafdelings. Hulle moet eerste opbreek. |
| 10 | Die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings moet aan die suidekant wees; en Elísur, die seun van Sedéür, moet owerste oor die seuns van Ruben wees. |
| 11 | En sy leër met sy geteldes was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd. |
| 12 | En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Símeon; en Selúmiël, die seun van Surísaddai, moet owerste oor die seuns van Símeon wees. |
| 13 | En sy leër met hulle geteldes was negen-en-vyftigduisend-driehonderd. |
| 14 | Verder die stam van Gad; en Éljasaf, die seun van Réhuel, moet owerste oor die seuns van Gad wees. |
| 15 | En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig. |
| 16 | Al die geteldes in die laer van Ruben was honderd-een-en-vyftigduisend-vierhonderd-en-vyftig volgens hulle leërafdelings. En hulle moet tweede opbreek. |
| 17 | Daarna moet die tent van samekoms opbreek: die laer van die Leviete, tussen die ander laers in. Soos hulle laer opslaan, so moet hulle opbreek, elkeen op sy plek volgens hulle vaandels. |
| 18 | Die vaandel van die laer van Efraim volgens hulle leërafdelings moet aan die westekant wees; en Elisáma, die seun van Ammíhud, moet owerste oor die seuns van Efraim wees. |
| 19 | En sy leër met hulle geteldes was veertigduisend-vyfhonderd. |
| 20 | En langs hom die stam van Manasse; en Gámliël, die seun van Pedásur, moet owerste oor die seuns van Manasse wees. |
| 21 | En sy leër met hulle geteldes was twee-en-dertigduisend-tweehonderd. |
| 22 | Verder die stam van Benjamin; en Abídan, die seun van Gideóni, moet owerste oor die seuns van Benjamin wees. |
| 23 | En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd. |
| 24 | Al die geteldes in die laer van Efraim was honderd-en-agtduisend-eenhonderd volgens hulle leërafdelings. En hulle moet derde opbreek. |
| 25 | Die vaandel van die laer van Dan moet aan die noordekant wees volgens hulle leërafdelings: en Ahiëser, die seun van Ammísaddai, moet owerste oor die seuns van Dan wees. |
| 26 | En sy leër met hulle geteldes was twee-en-sestigduisend-sewehonderd. |
| 27 | En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Aser; en Págiël, die seun van Ogran, moet owerste oor die seuns van Aser wees. |
| 28 | En sy leër met hulle geteldes was een-en-veertigduisend-vyfhonderd. |
| 29 | Verder die stam van Náftali; en Ahíra, die seun van Enan, moet owerste oor die seuns van Náftali wees. |
| 30 | En sy leër met hulle geteldes was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. |
| 31 | Al die geteldes in die laer van Dan was honderd-sewen-en-vyftigduisend-seshonderd. Hulle moet laaste opbreek volgens hulle vaandels. |
| 32 | Dit is die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families. Al die geteldes van die laers volgens hulle leërafdelings was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig. |
| 33 | Maar die Leviete is onder die kinders van Israel nie getel nie, soos die HERE Moses beveel het. |
| 34 | En die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle laer opgeslaan volgens hulle vaandels, en so het hulle opgebreek elkeen volgens sy geslagte, by sy families. |