1 | VIR die musiekleier; met basstem. ’n Psalm van Dawid. |
2 | Red, o HERE, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders. |
3 | Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig. |
4 | Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat, |
5 | hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons? |
6 | Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag. |
7 | Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal. |
8 | U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig. |
9 | Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders. |