| 1 | ’n BEDEVAARTSLIED. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite; |
| 2 | dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob: |
| 3 | Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie; |
| 4 | sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie, |
| 5 | totdat ek ’n plek vind vir die HERE, ’n woning vir die Magtige van Jakob! |
| 6 | Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär. |
| 7 | Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete. |
| 8 | Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte! |
| 9 | Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel. |
| 10 | Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg. |
| 11 | Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon. |
| 12 | As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit. |
| 13 | Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: |
| 14 | Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer. |
| 15 | Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood; |
| 16 | en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel. |
| 17 | Daar sal Ek vir Dawid ’n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ’n lamp toeberei. |
| 18 | Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter. |