1 | VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. |
2 | Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. |
3 | Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. |
4 | Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die HERE nie aan nie. |
5 | Dáár het skrik hulle oorweldig, want God is by die regverdige geslag. |
6 | Die raad van die ellendige — julle kan dit tot skande maak; waarlik, die HERE is sy toevlug. |
7 | Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As die HERE die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees. |