1 | ’n GEDIG van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek. |
2 | Ek het tot die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie. |
3 | Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is. |
4 | Die smarte van hulle wat ’n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie. |
5 | Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. |
6 | Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. |
7 | Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. |
8 | Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. |
9 | Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; |
10 | want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. |
11 | U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig. |