1 | ’n PSALM van Dawid. Doen aan my reg, o HERE, want ék wandel in my opregtheid en vertrou op die HERE sonder om te wankel. |
2 | Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart; |
3 | want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid. |
4 | Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. |
5 | Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. |
6 | Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE, |
7 | om die stem van lof te laat hoor en om al u wonders te vertel. |
8 | HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid. |
9 | Ruk my siel nie weg saam met die sondaars en my lewe saam met die manne van bloed nie, |
10 | in wie se hande skandelike dade is, en wie se regterhand vol is van omkopery. |
11 | Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig. |
12 | My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings. |