1 | ’n PSALM, ’n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid. |
2 | Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie. |
3 | HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. |
4 | HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal. |
5 | Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam; |
6 | want ’n oomblik is daar in sy toorn, ’n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig. |
7 | Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. |
8 | HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg — ek het verskrik geword! |
9 | Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek: |
10 | Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig? |
11 | Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my ’n helper! |
12 | U het my weeklag vir my verander in ’n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; |
13 | sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof. |