| 1 | VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid, |
| 2 | toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. |
| 3 | Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. |
| 4 | Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. |
| 5 | Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. |
| 6 | Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. |
| 7 | Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. |
| 8 | Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. |
| 9 | Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. |
| 10 | Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. |
| 11 | Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. |
| 12 | Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. |
| 13 | Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. |
| 14 | Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees. |
| 15 | Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. |
| 16 | Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. |
| 17 | Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. |
| 18 | Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. |
| 19 | Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! |
| 20 | Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. |
| 21 | Dan sal U ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar. |