| 1 | VIR die musiekleier; op die wysie van: „Moenie verwoes nie.” ’n Psalm van Asaf. ’n Lied. |
| 2 | Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders. |
| 3 | As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig. |
| 4 | Al wankel die aarde en al sy bewoners — Ék het sy pilare vasgestel. Sela. |
| 5 | Ek sê tot die onsinniges: Wees nie onsinnig nie! en tot die goddelose: Verhef die horing nie! |
| 6 | Verhef julle horing nie daarbo en spreek nie met trots uitgerekte nek nie. |
| 7 | Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie ... |
| 8 | maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander. |
| 9 | Want in die hand van die HERE is ’n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink. |
| 10 | Maar ék sal vir ewig verkondig — ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob. |
| 11 | En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend breek; die horings van die regverdige sal verhef word. |