1 | ’n ONDERWYSING van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. |
2 | Ek wil my mond open met ’n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. |
3 | Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, |
4 | sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. |
5 | Hy tog het ’n getuienis opgerig in Jakob en ’n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het — om dit aan hulle kinders bekend te maak, |
6 | sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, |
7 | en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, |
8 | en nie word soos hulle vaders nie, ’n koppige en wederstrewige geslag, ’n geslag met ’n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie. |
9 | Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog. |
10 | Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. |
11 | En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het. |
12 | Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan. |
13 | Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ’n wal. |
14 | En Hy het hulle bedags gelei met ’n wolk en die hele nag met ’n lig van vuur. |
15 | Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. |
16 | En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere. |
17 | Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land. |
18 | En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin. |
19 | En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ’n tafel kan dek in die woestyn? |
20 | Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? |
21 | Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en ’n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel; |
22 | omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie. |
23 | En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; |
24 | en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. |
25 | Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur. |
26 | Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer; |
27 | en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë; |
28 | en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings. |
29 | Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. |
30 | Hulle was nie weg van hul begeerte nie — hulle voedsel was nog in hulle mond — |
31 | toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy ’n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het. |
32 | Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. |
33 | So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking. |
34 | Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; |
35 | en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. |
36 | En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; |
37 | maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie. |
38 | Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. |
39 | En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ’n wind wat weggaan en nie terugkom nie. |
40 | Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis; |
41 | en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. |
42 | Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie; |
43 | toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan. |
44 | En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie. |
45 | Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het. |
46 | En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan. |
47 | Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp. |
48 | Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse. |
49 | Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ’n uitsending van ongeluksbodes. |
50 | Hy het ’n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee. |
51 | En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam. |
52 | Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos ’n kudde in die woestyn. |
53 | Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek. |
54 | En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het. |
55 | En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in húlle tente laat woon. |
56 | Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie. |
57 | En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos ’n bedrieglike boog. |
58 | En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek. |
59 | God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp. |
60 | En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense. |
61 | En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander. |
62 | En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel. |
63 | Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. |
64 | Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie. |
65 | Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos ’n held wat oorweldig is deur die wyn; |
66 | en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle ’n ewige smaadheid aangedoen. |
67 | En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie, |
68 | maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet. |
69 | En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het. |
70 | En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. |
71 | Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. |
72 | En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande. |