1 | VIR die musiekleier; op die Gittiet. ’n Psalm van Dawid. |
2 | O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele. |
3 | Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak. |
4 | As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — |
5 | wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? |
6 | U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. |
7 | U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: |
8 | skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, |
9 | die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. |
10 | o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! |