| 1 | HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. |
| 2 | Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. |
| 3 | Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. |
| 4 | Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser. |
| 5 | Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, |
| 6 | vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! |
| 7 | Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. |
| 8 | Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. |
| 9 | Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. |
| 10 | Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; |
| 11 | want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. |
| 12 | Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. |
| 13 | Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. |
| 14 | Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. |
| 15 | Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. |
| 16 | Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien. |