1 | DIE basuin aan jou mond! Soos ’n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het. |
2 | My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U. |
3 | Israel het die goeie verwerp — die vyand sal hom agtervolg! |
4 | Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf. |
5 | Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees? |
6 | Want dit is ook uit Israel: ’n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word — die kalf van Samaría. |
7 | Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind. |
8 | Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. |
9 | Want húlle het opgetrek na Assur — ’n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! — hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf. |
10 | Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê. |
11 | Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig — die altare het vir hom tot sonde geword. |
12 | Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag. |
13 | Slagoffers, My aangebied, offer hulle — vleis is dit, en hulle eet; die HERE het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte. |
14 | Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda ’n menigte versterkte stede, daarom sal Ek ’n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer. |