| 1 | DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, |
| 2 | om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, |
| 3 | om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; |
| 4 | om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; |
| 5 | laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, |
| 6 | om ’n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. |
| 7 | DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. |
| 8 | My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; |
| 9 | want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals. |
| 10 | My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; |
| 11 | as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, |
| 12 | laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; |
| 13 | allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; |
| 14 | jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê — |
| 15 | my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; |
| 16 | want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; |
| 17 | want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: |
| 18 | so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. |
| 19 | So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe. |
| 20 | DIE Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, |
| 21 | op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: |
| 22 | Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? |
| 23 | Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. |
| 24 | Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, |
| 25 | en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, |
| 26 | daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; |
| 27 | as julle verskrikking kom soos ’n onweer, en julle ondergang soos ’n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. |
| 28 | Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. |
| 29 | Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, |
| 30 | van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, |
| 31 | daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. |
| 32 | Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde; |
| 33 | maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil. |