1 | MY seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, |
2 | sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; |
3 | ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, |
4 | as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, |
5 | dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind |
6 | (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand, |
7 | en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is ’n skild vir die wat regskape wandel |
8 | deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar); |
9 | dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid — elke goeie pad. |
10 | Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; |
11 | oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, |
12 | om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; |
13 | van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel; |
14 | die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte, |
15 | van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore; |
16 | om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei |
17 | (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet; |
18 | want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme; |
19 | almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie) |
20 | sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou; |
21 | want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, |
22 | maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word. |