| 1 | MY seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; |
| 2 | want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. |
| 3 | Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, |
| 4 | dan sal jy genade vind en ’n goeie insig in die oë van God en die mense. |
| 5 | Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. |
| 6 | Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. |
| 7 | Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; |
| 8 | dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. |
| 9 | Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; |
| 10 | dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos. |
| 11 | My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, |
| 12 | want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het. |
| 13 | Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; |
| 14 | want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; |
| 15 | dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. |
| 16 | In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; |
| 17 | sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. |
| 18 | Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig. |
| 19 | Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel; |
| 20 | deur sy kennis het die watervloede oopgebreek en het die wolke dou gedrup. |
| 21 | My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg, |
| 22 | dan sal dit die lewe wees vir jou siel en ’n versiersel vir jou hals; |
| 23 | dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie; |
| 24 | as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. |
| 25 | Jy hoef nie bang te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; |
| 26 | want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik. |
| 27 | Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. |
| 28 | Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het. |
| 29 | Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. |
| 30 | Twis nie sonder oorsaak met ’n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie. |
| 31 | Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. |
| 32 | Want die verkeerde is vir die HERE ’n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes. |
| 33 | Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. |
| 34 | As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade. |
| 35 | Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande. |