| 1 | HOOR, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken; |
| 2 | want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie. |
| 3 | Want toe ek ’n seun was by my vader, teer en ’n enigste voor my moeder, |
| 4 | het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe. |
| 5 | Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie: |
| 6 | verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak. |
| 7 | Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. |
| 8 | Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. |
| 9 | Dit sal ’n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou ’n sierlike kroon verskaf. |
| 10 | Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word. |
| 11 | In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree; |
| 12 | as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. |
| 13 | Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe. |
| 14 | Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. |
| 15 | Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; |
| 16 | want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ’n val bring nie. |
| 17 | Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. |
| 18 | Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, |
| 19 | is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. |
| 20 | My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, |
| 21 | laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. |
| 22 | Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam. |
| 23 | Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. |
| 24 | Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe. |
| 25 | Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. |
| 26 | Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, |
| 27 | wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid. |