| 1 | HALLELUJA! Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote! |
| 2 | Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! |
| 3 | Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter. |
| 4 | Want die HERE het ’n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil. |
| 5 | Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. |
| 6 | Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ’n tweesnydende swaard in hulle hand; |
| 7 | om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; |
| 8 | om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; |
| 9 | om ’n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ’n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja! |